8. En die dogter van Sion het oorgebly soos ’n skermpie in ’n wingerd, soos ’n slaapplekkie in ’n komkommertuin, soos ’n beleërde stad.
9. As die Here van die leërskare vir ons nie ’n klein oorblyfsel oorgelaat het nie — soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het.
10. Hoor die woord van die Here, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!
11. Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die Here. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie.
12. As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis — om my voorhowe te vertrap?
13. Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste — Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie!
14. Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My ’n oorlas. Ek is moeg om dit te dra.
15. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.
16. Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen,
17. leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.