Jeremia 6:2-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Die mooie en die verwénde verdelg Ek — die dogter van Sion.

3. Herders met hulle troppe vee sal na haar toe kom; hulle slaan tente op teen haar rondom, hulle wei af, elkeen sover as hy kan bykom.

4. Heilig die oorlog teen haar! Staan op, en laat ons optrek op die middag! Wee ons, want die dag gaan verby, want die aandskaduwees word langer!

5. Staan op, en laat ons optrek in die nag, en laat ons haar paleise verwoes!

6. Want so sê die Here van die leërskare: Kap haar bome af, en gooi teen Jerusalem ’n wal op; dit is die stad wat besoek word; binne-in haar is net verdrukking.

7. Soos ’n put sy water fris hou, so hou sy haar boosheid fris; geweld en verdrukking word in haar gehoor, siektes en wonde is gedurig voor my aangesig.

8. Laat jou tugtig, Jerusalem, dat my siel nie van jou vervreemd word nie, dat Ek jou nie ’n wildernis maak, ’n onbewoonde land nie.

9. So sê die Here van die leërskare: Hulle sal die oorblyfsel van Israel skoon afoes soos ’n wingerdstok. Slaan jou hand weer soos ’n druiwesnyer aan die lote!

10. Wie sal ek toespreek en waarsku, dat hulle kan hoor? Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie. Kyk, die woord van die Here is vir hulle ’n smaad, hulle het daar geen behae in nie.

11. Daarom is ek vol van die grimmigheid van die Here; ek het my moeg gemaak om uit te hou. Giet dit uit oor die kinders op die straat en oor die versameling van jongmanne, oor almal; want ook die man saam met die vrou sal gevang word, die grysaard saam met die oue van dae.

12. En hulle huise sal oorgaan op ander mense, landerye en vroue, alles tesame; want Ek sal my hand uitstrek teen die inwoners van die land, spreek die Here.

13. Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog.

14. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie.

15. Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die Here.

16. So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.

17. Ek het ook wagte oor julle gestel en gesê: Luister na die geluid van die basuin. Maar hulle het geantwoord: Ons wil nie luister nie.

18. Daarom, hoor, o nasies! En weet, o vergadering, wat onder hulle is!

19. Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp.

Jeremia 6