Jeremia 48:5-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Want die hoogte van Luhit gaan hulle op met geween by geween; want aan die hange van Horonáim het hulle angsgeskreeu van verbreking gehoor.

6. Vlug, red julle lewe, en word soos ’n kaal bos in die woestyn!

7. Want omdat jy vertrou het op jou handelinge en op jou voorrade, sal jý ook ingeneem word; en Kamos sal uittrek in ballingskap, sy priesters en sy vorste almal saam.

8. En die verwoester sal kom oor elke stad, sodat geen stad sal vryraak nie; en die dal sal te gronde gaan, en die gelyk veld sal verwoes word, soos die Here gesê het.

9. Gee vlerke aan Moab, want hy sal moet wegvlieg; en sy stede sal ’n woesteny word, sonder dat daar iemand in woon.

10. Vervloek is hy wat nalatig is om die werk van die Here te doen; ja, vervloek is hy wat sy swaard van bloed terughou!

11. Moab was gerus van sy jeug af en het stil gelê op sy afsaksel, sonder dat hy leeggemaak is van vat in vat: hy het nie in ballingskap gegaan nie; daarom het sy smaak in hom gebly en sy geur nie verander nie.

12. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek aftappers na hom sal stuur wat hom sal aftap en sy vate sal leegmaak en sy kruike stukkend slaan.

13. En Moab sal beskaamd staan deur Kamos, soos die huis van Israel beskaamd gestaan het deur Bet-el waar hulle op vertrou het.

14. Hoe kan julle sê: Ons is helde en manne bekwaam om te veg?

15. Moab is verwoes, en hulle het opgegaan in sy stede, en sy beste jongmanne het afgegaan om geslag te word, spreek die Koning wie se Naam is Here van die leërskare.

Jeremia 48