27. Want was Israel vir jou nie ’n bespotting nie? Of is hy onder die diewe betrap, dat jy die hoof geskud het so dikwels as jy van hom gespreek het?
28. Verlaat die stede en gaan woon in die rots, inwoners van Moab! En word soos ’n duif wat sy nes maak oorkant die opening van die afgrond.
29. Ons het van die trotsheid van Moab gehoor — hy is baie trots! — van sy hoogheid en sy trotsheid en sy hoogmoed en die verheffing van sy hart.
30. Ek ken sy grimmigheid, spreek die Here, en sy onbehoorlike grootpratery; onbehoorlik het hulle gehandel.
31. Daarom sal ek oor Moab huil, ja, oor die hele Moab dit uitskreeu; oor die manne van Kir-Heres sug hulle.
32. Bo die geween van Jaéser sal ek jou beween, o wingerdstok van Sibma! Jou ranke het gegaan oor die see, tot by die see van Jaéser het hulle gekom — die verwoester het jou somervrugte en jou druiwe-oes oorval.
33. Daarom is vreugde en gejuig weggeneem uit die land van tuine en uit die land Moab, en Ek het die wyn uit die parskuipe laat verdwyn; hulle sal dit nie trap met vreugdegeroep nie; die vreugdegeroep sal geen vreugdegeroep wees nie.
34. Weens die geskreeu van Hesbon tot by Eleále, tot by Jahas het hulle hul stem verhef, van Soar af tot by Horonáim, Eglat-Selísia; want ook die waters van Nimrim sal ’n woesteny word.
35. En Ek sal in Moab ’n einde maak, spreek die Here, aan hom wat op die hoogte offer en rook laat opgaan vir sy god.
36. Daarom klaag my hart oor Moab soos fluite, ja, my hart klaag oor die manne van Kir-Heres soos fluite; omdat die oorwins wat hulle verwerf het, verlore gegaan het.
37. Want al die hoofde is kaal en al die baarde is afgeskeer; op al die hande is snye en om die heupe is ’n roukleed.
38. Op al die dakke van Moab en op sy pleine is net rouklag, want Ek het Moab verbreek soos ’n ding waar ’n mens geen behae in het nie, spreek die Here.
39. Hoe is hy verslae! Hulle huil. Hoe het Moab die rug gedraai met skaamte! So sal Moab dan vir almal wat rondom hom is, ’n belagging en ’n verskrikking word.
40. Want so sê die Here: Kyk, hy sal vlieg soos ’n arend en sal sy vleuels oor Moab uitsprei.
41. Die stede is ingeneem, en die bergvestings is verower; en die hart van die helde van Moab sal in dié dag wees soos die hart van ’n vrou wat in nood is.
42. En Moab sal verdelg word, dat hy geen volk meer is nie, omdat hy hom groot gehou het teen die Here.
43. Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o inwoner van Moab, spreek die Here.