4. Toe het die vorste aan die koning gesê: Laat hierdie man tog gedood word, want so maak hy die hande van die krygsmanne slap wat in hierdie stad nog oor is en die hande van die hele volk deur sulke woorde tot hulle te spreek; want dié man soek nie die vrede van hierdie volk nie, maar die onheil.
5. En koning Sedekía het gesê: Kyk, hy is in julle mag, want die koning kan niks teen julle doen nie.
6. Toe neem hulle Jeremia en gooi hom in die put van Malkía, die seun van die koning, wat in die voorhof van bewaking was; en hulle het Jeremia met toue laat afsak. En in die put was geen water nie, maar modder; en Jeremia het in die modder gesak.
7. En toe Ebed-Meleg, die Kusiet, ’n hofdienaar wat in die paleis van die koning was, hoor dat hulle Jeremia in die put gegooi het — die koning het toe in die Benjaminspoort gesit —
8. het Ebed-Meleg uit die paleis van die koning gegaan en met die koning gespreek en gesê:
9. My heer die koning, hierdie manne het verkeerd gehandel in alles wat hulle die profeet Jeremia aangedoen het, wat hulle in die put gegooi het; hy sal tog sterwe van honger op die plek waar hy is; want daar is geen brood meer in die stad nie.
10. Toe gee die koning aan Ebed-Meleg, die Kusiet, bevel en sê: Neem hiervandaan dertig manne met jou saam en trek die profeet Jeremia uit die put op voordat hy sterwe.
11. Daarop het Ebed-Meleg die manne met hom saamgeneem en ingegaan in die paleis van die koning onder die voorraadkamer en daarvandaan verslyte en geskeurde lappe geneem wat hy na Jeremia in die put met toue laat afsak het.
12. En Ebed-Meleg, die Kusiet, het vir Jeremia gesê: Sit tog die verslyte en geskeurde lappe onder jou armholtes onder die toue; en Jeremia het so gedoen.
13. En hulle het Jeremia aan die toue opgetrek en hom uit die put uitgehaal. En Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly.
14. Toe stuur koning Sedekía en hy laat die profeet Jeremia na hom bring in die derde ingang wat by die huis van die Here was; en die koning het vir Jeremia gesê: Ek wil jou iets vra; steek vir my niks weg nie.
15. Maar Jeremia het Sedekía geantwoord: As ek u dit te kenne gee, sal u my nie sekerlik doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u na my nie luister nie.
16. Toe sweer koning Sedekía vir Jeremia in die geheim en sê: So waar as die Here leef wat aan ons hierdie lewe verleen het — ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!
17. Daarop sê Jeremia vir Sedekía: So spreek die Here, die God van die leërskare, die God van Israel: As u vrywillig uitgaan na die vorste van die koning van Babel, sal u siel lewe en sal hierdie stad nie met vuur verbrand word nie; en u sal lewe, u en u huis.