10. So spreek die Here: In hierdie plek waarvan julle sê: Dit is woes, sonder mens en sonder dier — in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem wat verwoes is, sonder mens en sonder inwoner en sonder dier, sal weer gehoor word
11. die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die stem van die wat sê: Loof die Here van die leërskare, want die Here is goed, want sy goedertierenheid is in ewigheid! — van die wat ’n lofoffer bring in die huis van die Here; want Ek sal die lot van die land verander soos tevore, sê die Here.
12. So spreek die Here van die leërskare: In hierdie plek wat woes is, sonder mens of dier, en in al die stede daarvan sal weer ’n weiveld vir die herders wees wat troppe kleinvee laat lê en rus.
13. In die stede van die Gebergte, in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suidland en in die land Benjamin en in die omstreke van Jerusalem en in die stede van Juda sal die troppe kleinvee weer by die teller verbygaan, sê die Here.