1. WEE die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die Here.
2. Daarom, so sê die Here, die God van Israel, aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe en hulle nie opgesoek nie. Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, spreek die Here.
3. En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld, en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig.
4. En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, spreek die Here.
5. KYK, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.
6. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.
7. Daarom kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat hulle nie meer sal sê: So waar as die Here leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie,
8. maar: So waar as die Here leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het. En hulle sal woon in hulle land.
9. WAT die profete betref — my hart is gebreek in my binneste, my hele gebeente sidder; ek is soos ’n dronk man en soos ’n man wat deur die wyn oorweldig is, vanweë die Here en sy heilige woorde.
10. Want die land is vol owerspelers; want die land treur weens die vloek, die weivelde van die woestyn verdor; ja, waar hulle na strewe, is sleg, en waar hulle hul krag in soek, onreg.
11. Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die Here.
12. Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerige plekke in die donkerheid; hulle sal neergestoot word en daarin val. Want Ek sal onheil oor hulle bring in die jaar van hulle besoeking, spreek die Here.
13. Ek het wel by die profete van Samaría aanstootlike dinge gesien: hulle profeteer deur Baäl en verlei my volk Israel;
14. maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra.
15. Daarom, so sê die Here van die leërskare aangaande die profete: Kyk, Ek laat hulle wildeals eet en laat hulle gifwater drink; want van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan.