Jeremia 22:6-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Want so sê die Here aangaande die huis van die koning van Juda: ’n Gílead is jy vir My, die top van die Líbanon. Waarlik, Ek sal jou ’n woestyn maak, stede wat nie bewoon word nie!

7. En Ek sal verwoesters teen jou heilig, elkeen met sy wapens, en hulle sal jou beste seders afkap en in die vuur gooi.

8. Dan sal baie nasies by hierdie stad verbytrek en die een aan die ander vra: Waarom het die Here so gedoen met hierdie groot stad?

9. En hulle sal sê: Omdat hulle die verbond van die Here hulle God verlaat het en voor ander gode hulle neergebuig en dié gedien het.

10. Ween nie oor die dooie en beklaag hom nie; ween liewer oor hom wat heengegaan het, want hy sal nie meer terugkom nie en die land van sy geboorte nie sien nie.

11. Want so sê die Here aangaande Sallum, die seun van Josía, die koning van Juda, wat in die plek van sy vader Josía geregeer het, wat uit hierdie plek uitgegaan het: Hy sal daar nie meer terugkom nie;

12. want in die plek waarheen hulle hom as gevangene weggevoer het, sal hy sterwe, en hierdie land sal hy nie meer sien nie.

13. Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid en sy dakkamers met onreg; wat sy naaste laat werk vir niks en hom sy loon nie gee nie;

14. wat sê: Ek sal vir my ’n groot huis bou en ruim dakkamers — en hy bou vir hom sy vensters in; en hy oordek dit met sederhout en bestryk dit met rooiminie.

15. Is jy ’n koning, omdat jy wedywer in sederhout? Het jou vader nie geëet en gedrink en reg en geregtigheid gedoen nie? Toe het dit goed met hom gegaan.

16. Hy het reg verskaf aan die ellendige en behoeftige; toe het dit goed gegaan. Is dit nie My erken nie? spreek die Here.

17. Maar jou oë en jou hart is net op jou onregverdige wins en op onskuldige bloed, om dit te vergiet, en op verdrukking en afpersing, om dit uit te voer.

18. Daarom sê die Here so van Jójakim, die seun van Josía, koning van Juda: Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, my broer! of — ag, suster! nie Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, heer! of — ag, majesteit! nie.

19. Met ’n eselsbegrafnis sal hy begrawe word — weggesleep en neergegooi ver van die poorte van Jerusalem af.

20. Klim op die Líbanon en skreeu, en laat in Basan jou stem hoor, ja, skreeu van die gebergte Abárim af, want al jou minnaars is verbreek.

21. Ek het met jou gespreek in jou sorgelose rus, maar jy het gesê: Ek wil nie luister nie. Dit was jou weg van jou jeug af, dat jy na my stem nie geluister het nie.

22. Die wind sal al jou herders verstrooi, en jou minnaars sal in gevangenskap gaan; ja, dan sal jy beskaamd staan en in die skande kom weens al jou boosheid.

23. Jy wat sit op die Líbanon, vasgenestel in die seders — hoe sal jy sug as weë oor jou kom, smart soos van een wat baar!

Jeremia 22