2. en sê: Hoor die woord van die Here, o koning van Juda, wat sit op die troon van Dawid; jy en jou dienaars en jou volk wat deur hierdie poorte ingaan.
3. So spreek die Here: Doen reg en geregtigheid, en red die beroofde uit die hand van die verdrukker; en doen geen skade, geen geweld aan vreemdeling, wees en weduwee nie, en vergiet geen onskuldige bloed in hierdie plek nie.
4. Want as julle hierdie saak sorgvuldig doen, sal deur die poorte van hierdie huis konings ingaan wat op die troon van Dawid sit, wat op strydwaens en op perde ry, hy en sy dienaars en sy volk.
5. Maar as julle na hierdie woorde nie luister nie, dan sweer Ek by Myself, spreek die Here, dat hierdie huis ’n puinhoop sal word.
6. Want so sê die Here aangaande die huis van die koning van Juda: ’n Gílead is jy vir My, die top van die Líbanon. Waarlik, Ek sal jou ’n woestyn maak, stede wat nie bewoon word nie!
7. En Ek sal verwoesters teen jou heilig, elkeen met sy wapens, en hulle sal jou beste seders afkap en in die vuur gooi.
8. Dan sal baie nasies by hierdie stad verbytrek en die een aan die ander vra: Waarom het die Here so gedoen met hierdie groot stad?
9. En hulle sal sê: Omdat hulle die verbond van die Here hulle God verlaat het en voor ander gode hulle neergebuig en dié gedien het.
10. Ween nie oor die dooie en beklaag hom nie; ween liewer oor hom wat heengegaan het, want hy sal nie meer terugkom nie en die land van sy geboorte nie sien nie.
11. Want so sê die Here aangaande Sallum, die seun van Josía, die koning van Juda, wat in die plek van sy vader Josía geregeer het, wat uit hierdie plek uitgegaan het: Hy sal daar nie meer terugkom nie;
12. want in die plek waarheen hulle hom as gevangene weggevoer het, sal hy sterwe, en hierdie land sal hy nie meer sien nie.
13. Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid en sy dakkamers met onreg; wat sy naaste laat werk vir niks en hom sy loon nie gee nie;
14. wat sê: Ek sal vir my ’n groot huis bou en ruim dakkamers — en hy bou vir hom sy vensters in; en hy oordek dit met sederhout en bestryk dit met rooiminie.
15. Is jy ’n koning, omdat jy wedywer in sederhout? Het jou vader nie geëet en gedrink en reg en geregtigheid gedoen nie? Toe het dit goed met hom gegaan.