Handelinge 14:1-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat ’n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.

2. Maar die ongehoorsame Jode het die gemoedere van die heidene teen die broeders opgehits en verbitter.

3. Hulle het toe ’n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind.

4. En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan.

5. Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, ’n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig,

6. het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke.

7. En daar het hulle die evangelie verkondig.

8. En in Listre het daar ’n man gesit wat magteloos was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie.

9. Hy het geluister terwyl Paulus spreek; en Paulus het die oë op hom gehou, en, toe hy sien dat hy geloof het om gesond te word,

10. met ’n groot stem gesê: Staan regop op jou voete! En hy het opgespring en begin rondloop.

11. En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies: Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe.

12. En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was.

13. En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer.

14. Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep

15. en gesê: Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.

16. Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel,

17. al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.

18. Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer.

Handelinge 14