Génesis 31:32-47 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. Die een by wie u u gode vind — hy mag nie lewe nie! Ondersoek wat by my is, in teenwoordigheid van ons broers, en neem dit vir u. Maar Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie.

33. Toe gaan Laban in die tent van Jakob en in die tent van Lea en in die tent van die twee slavinne, maar hy het niks gekry nie; en toe hy uit die tent van Lea uitgaan, kom hy in die tent van Ragel.

34. Maar Ragel het die huisgode geneem en dit in die kameelsaal weggepak en daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie.

35. Daarop sê sy vir haar vader: My heer moet nie baie kwaai kyk nie, omdat ek nie vir u kan opstaan nie; want dit gaan met my volgens die reël van die vroue. En hy het gesoek maar die huisgode nie gekry nie.

36. Toe word Jakob kwaad, en hy het met Laban getwis; en Jakob het geantwoord en vir Laban gesê: Wat is my oortreding, wat is my sonde, dat u my so vurig agternagesit het?

37. Nou dat u al my goed deurgevoel het — wat het u van al u huisraad gevind? Sit dit hier neer voor my broers en u broers, en laat hulle oordeel tussen ons twee.

38. Twintig jaar was ek nou by u. U skaap- en bokooie het geen misdrag gehad nie, en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie.

39. Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie: ek moes dit vergoed; van my hand het u dit geëis, of dit al bedags gesteel is of snags gesteel is.

40. Ek was ’n man wat bedags deur die hitte verteer is en snags deur die koue, en my slaap het gevlug van my oë.

41. Twintig jaar was ek nou in u huis; veertien jaar het ek u gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee; en u het my loon tien maal verander.

42. As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie — ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het. God het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag geoordeel.

43. Toe antwoord Laban en sê vir Jakob: Die dogters is my dogters, en die seuns is my seuns, en die kleinvee is my kleinvee, ja, alles wat jy sien, is myne; maar my dogters — wat sal ek hulle vandag kan aandoen of aan hulle seuns wat hulle gebaar het?

44. Kom dan nou, laat ons ’n verbond sluit, ek en jy, dat dit ’n getuie tussen my en jou kan wees.

45. Daarop het Jakob ’n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig.

46. En Jakob het aan sy broers gesê: Bring klippe bymekaar! En hulle het klippe gaan haal en ’n hoop gemaak en daar op die hoop geëet.

47. En Laban het dit Jegar-Sahadúta genoem, maar Jakob het dit Gal-ed genoem.

Génesis 31