Exodus 16:9-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Verder het Moses met Aäron gespreek: Sê aan die hele vergadering van die kinders van Israel: Kom nader voor die aangesig van die Here, want Hy het julle murmureringe gehoor.

10. En onderwyl Aäron die hele vergadering van die kinders van Israel toespreek, draai hulle na die woestyn toe en meteens verskyn die heerlikheid van die Here in die wolk.

11. Ook het die Here met Moses gespreek en gesê:

12. Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor; spreek met hulle en sê: Teen die aand sal julle vleis eet en in die môre met brood versadig word; en julle sal weet dat Ek die Here julle God is.

13. En in die aand het daar kwartels opgekom en die laer oordek. En in die môre was daar ’n doulaag rondom die laer.

14. En nadat die doulaag opgetrek het, het daar oor die woestyn iets gelê wat fyn en korrelrig was, fyn soos ryp op die grond.

15. Toe die kinders van Israel dit sien, sê hulle vir mekaar: Wat is dit? Want hulle het nie geweet wat dit was nie. Daarop sê Moses vir hulle: Dit is die brood wat die Here julle gee om te eet.

16. Dit is die saak wat die Here beveel het: Samel daarvan in, elkeen na sy behoefte: ’n gomer vir elke persoon volgens julle sieletal; elkeen moet dit neem vir die wat in sy tent is.

17. En die kinders van Israel het so gedoen: hulle het ingesamel, die een baie en die ander min.

18. Maar toe hulle dit met die gomer meet, het hy wat baie ingesamel het, niks oorgehad nie; en hy wat min ingesamel het, nie te min nie. Elkeen na sy behoefte het hulle ingesamel.

19. En Moses het vir hulle gesê: Niemand moet daarvan laat oorbly tot môre toe nie.

20. Maar hulle het nie na Moses geluister nie: sommige het daarvan laat oorbly tot die môre toe. Toe kom daar wurms in en dit bederwe. Daarom het Moses baie kwaad geword vir hulle.

21. En hulle het dit môre vir môre ingesamel, elkeen na sy behoefte; en as die son warm word, smelt dit weg.

22. En op die sesde dag het hulle ’n dubbele porsie brood ingesamel, twee gomers vir elkeen. En al die owerstes van die vergadering het gekom en dit aan Moses vertel.

Exodus 16