18. Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.
19. Toe die Here dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters.
20. En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ’n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie.
21. Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ek sal dan hulle ywer wek deur die wat ’n nie-volk is, deur ’n dwase nasie sal Ek hulle terg.
22. Want ’n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek.
23. Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal Ek op hulle wegskiet.
24. As hulle uitgeput is van honger en verteer deur koorsgloed en dodelike siekte, sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat met die gif van stofkruipers.
25. Buitekant sal die swaard beroof, en in die binnekamers die verskrikking; die jongman sowel as die jongedogter, die suigling saam met die grysaard.
26. Ek sou gesê het: Ek wil hulle wegblaas, hulle gedagtenis onder die mense uitroei —
27. as Ek nie vir die terging van die vyand bedug was nie, dat hulle teëstanders dit sou misverstaan en sê: Ons hand was hoog, en die Here het dit alles nie gedoen nie.
28. Want ’n nasie van verlore raadsplanne is hulle, en daar is geen verstand in hulle nie.
29. Was hulle wys, hulle sou dit insien, hulle sou op hulle einde let.
30. Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tienduisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul Steenrots hulle verkoop en die Here hulle oorgelewer het nie!
31. Want hulle steenrots is nie soos ons Steenrots nie — ja, ons vyande self is skeidsregters!
32. Want hulle wingerdstok is uit die wingerdstok van Sodom en uit die wingerde van Gomorra; hulle druiwe is giftige druiwe, bitter trosse dra hulle.
33. Hulle wyn is slanggif en wrede addergif.
34. Is dit nie by My opgegaar, in my skatkamers verseël nie?
35. My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou.
36. Want die Here sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.