Daniël 11:24-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir ’n tyd.

25. En hy sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met ’n groot leër; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met ’n groot en baie sterk leër, maar hy sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom beraam.

26. En die wat sy spys eet, sal hom te gronde rig; en sy leër sal wegvloei, en daar sal baie gesneuweldes lê.

27. En wat die twee konings betref, hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees.

28. En hy sal na sy land teruggaan met baie goed, en sy hart sal teen die heilige verbond wees, en hy sal optree en na sy land teruggaan.

29. Op die vasgestelde tyd sal hy terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie.

30. Want skepe van die Kittiërs sal teen hom kom, en hy sal moedeloos word; dan sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree; en hy sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het.

31. En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.

32. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree.

33. En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank.

34. En terwyl hulle struikel, sal hulle met ’n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit.

Daniël 11