Daniël 11:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN ek, in die eerste jaar van Daríus, die Meder, het ek opgetree as ’n versterking en beskutting vir hóm.

2. EN nou sal ek jou die waarheid te kenne gee. Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland.

3. Dan sal ’n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos hy wil.

4. En as hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie — want sy koninkryk sal verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander.

5. En die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy owerstes sal sterker word as hy en heers; sy heerskappy sal ’n groot heerskappy wees.

6. En ná verloop van jare sal hulle ’n bondgenootskap met mekaar aangaan, en die dogter van die koning van die Suide sal na die koning van die Noorde kom om vrede te sluit; maar sy sal die krag van die arm nie behou nie — hy en sy mag sal nie standhou nie, en sy self sal prysgegee word saam met die wat haar gebring het, sowel as hy wat haar verwek het en haar in dié tyd verwerf het.

7. Dan sal een uit die spruite van haar wortels in sy plek oprys en teen die leër optrek, en hy sal in die vesting van die koning van die Noorde indring en teen hulle optree en magtig wees;

8. ja, ook hulle gode en hulle gegote beelde saam met hulle kosbare voorwerpe, silwer en goud, in gevangenskap na Egipte bring, en hy sal jare lank die koning van die Noorde met rus laat.

9. Dan sal dié in die koninkryk van die koning van die Suide intrek, maar hy sal na sy land terugtrek.

10. En sy seuns sal hulle in die oorlog begewe en ’n menigte groot leërs versamel; en hy sal sekerlik aankom en instroom en oorloop, en weer terugkom, en hulle sal oorlog voer tot by sy vesting.

11. Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg, wat ook ’n groot menigte op die been sal bring, maar hierdie menigte sal in sy hand oorgegee word.

12. As die menigte vernietig is, sal sy hart hom verhef; en hy sal tienduisende neerslaan, maar nie sterk bly nie.

13. Dan sal die koning van die Noorde weer ’n groter menigte op die been bring as die eerste, en ná verloop van tyd, van jare, sal hy sekerlik kom met ’n groot leër en ’n groot gevolg.

14. En in dié tye sal baie teen die koning van die Suide opstaan, en die gewelddadige mense van jou volk sal hulle verhef om ’n gesig in vervulling te laat gaan, maar hulle sal omkom.

15. So sal dan die koning van die Noorde kom en ’n wal opwerp en ’n versterkte stad inneem; en die leërs van die Suide sal nie standhou nie, selfs sy uitgesoekte manskappe nie, sodat daar geen krag sal wees om stand te hou nie.

Daniël 11