2 Samuel 18:24-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. En terwyl Dawid tussen die twee poortingange sit, het die wag op die dak van die poort op die muur geklim; en toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens ’n man alleen hardloop.

25. Toe het die wag uitgeroep en dit aan die koning meegedeel. En die koning sê: As hy alleen is, dan is daar ’n goeie boodskap in sy mond. Terwyl hy al nader en nader kom,

26. sien die wag ’n ander man hardloop; en die wag het die poortwagter toegeroep en gesê: Kyk, daar hardloop nog ’n man alleen. Daarop sê die koning: Hy bring ook ’n goeie boodskap.

27. Verder het die wag gesê: Ek sien die gang van die eerste is soos die gang van Ahímaäs, die seun van Sadok. Toe sê die koning: Hy is ’n goeie man, en hy kom met ’n goeie boodskap.

28. En Ahímaäs het uitgeroep en aan die koning gesê: Vrede! En hy het hom voor die koning gebuig met sy aangesig na die aarde en gesê: Geloofd sy die Here u God wat die manne oorgelewer het wat hulle hand teen my heer die koning opgetel het.

29. Toe vra die koning: Gaan dit goed met die jongman, met Absalom? En Ahímaäs antwoord: Ek het ’n groot gewoel gesien toe Joab die dienaar van die koning, naamlik u dienaar, gestuur het, maar ek het nie geweet wat dit was nie.

30. Daarop sê die koning: Gaan opsy en kom hier staan. Toe hy dan opsy gaan en daar bly staan,

31. kom die Kusiet juis aan; en die Kusiet sê: My heer die koning moet die blye boodskap ontvang dat die Here aan u vandag reg verskaf het teenoor almal wat teen u opgestaan het.

32. En die koning het die Kusiet gevra: Gaan dit goed met die jongman, met Absalom? En die Kusiet sê: Mag dit met die vyande van my heer die koning en met almal wat teen u opstaan om kwaad te doen, gaan soos met dié jongman!

33. Toe het die koning baie ontroerd geword en opgeklim na die bovertrek van die poort en geween; en hy het rondgeloop en só gesê: My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!

2 Samuel 18