4. Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer die een helfte van hulle baard af en sny hulle klere in die helfte af, tot by hulle sitplekke; en hy het hulle laat gaan.
5. En toe hulle aan Dawid hiervan berig bring, stuur hy om hulle tegemoet te gaan, want die manne was baie skaam. En die koning het gesê: Bly in Jérigo totdat julle baard weer gegroei het; kom dan terug.
6. Toe die kinders van Ammon sien dat hulle hul gehaat gemaak het by Dawid, het die kinders van Ammon gestuur en die Arameërs van Bet-Rehob en die Arameërs van Soba gehuur, twintigduisend voetgangers, en van die koning van Máäga, duisend man, en die manne van Tob, twaalfduisend man.
7. En Dawid het dit gehoor en Joab met die hele leër, die helde, gestuur.
8. En die kinders van Ammon het uitgetrek en die slagorde opgestel by die ingang van die poort, terwyl die Arameërs van Soba en Rehob en die manne van Tob en Máäga afsonderlik in die veld was.
9. Toe Joab sien dat ’n aanval van voor sowel as van agter hom bedreig, het hy uit al die uitgesoektes in Israel ’n keuse gedoen en hulle opgestel teenoor die Arameërs.
10. Maar die ander manskappe het hy onder bevel van sy broer Abísai geplaas en dié het hulle opgestel teenoor die kinders van Ammon.
11. En hy het gesê: As die Arameërs vir my te sterk word, moet jy my te hulp kom, en as die kinders van Ammon vir jou te sterk word, sal ek kom om jou te help.
12. Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die Here dan doen wat goed is in sy oë!
13. Daarop het Joab en die manskappe wat by hom was, nader gekom om teen die Arameërs te veg, en hulle het vir hom gevlug.