2 Kronieke 25:18-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Maar Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, dít laat weet: Die distel wat op die Líbanon is, het die seder wat op die Líbanon is, laat weet: Gee jou dogter aan my seun as vrou! Maar die diere van die veld wat op die Líbanon is, het verbygegaan en die distel vertrap.

19. U dink u het die Edomiete verslaan, daarom is u hart hoogmoedig om eer te verwerwe. Bly nou tuis! Waarom wil u u in die ongeluk stort, sodat u sou val, u en Juda saam met u?

20. Maar Amásia het nie geluister nie; want dit was van God beskik om hulle uit te lewer, omdat hulle die gode van Edom gesoek het.

21. Toe trek Joas, die koning van Israel, op; en hulle het mekaar se aangesig gesien, hy en Amásia, die koning van Juda, by Bet-Semes wat aan Juda behoort.

22. En Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe.

23. En Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, die seun van Joas, die seun van Jóahas, by Bet-Semes gevang en hom na Jerusalem gebring en vierhonderd el van die muur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort.

24. En hy het al die goud en die silwer geneem en al die voorwerpe wat in die huis van God by Obed-Edom te vinde was, en die skatte van die huis van die koning en ook die gyselaars, en omgedraai na Samaría toe.

25. En Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, het ná die dood van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, vyftien jaar gelewe.

2 Kronieke 25