1. EN daar was ’n man van Benjamin met die naam van Kis, die seun van Abíël, die seun van Seror, die seun van Begorat, die seun van Afíag, ’n Benjaminiet, ’n vermoënde man.
2. En hy het ’n seun gehad met die naam van Saul, ’n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk.
3. En toe die eselinne van Kis, die vader van Saul, weggeraak het, sê Kis aan sy seun Saul: Neem tog een van die dienaars met jou saam en maak jou klaar, gaan soek die esels.
4. Hy het toe die gebergte van Efraim deurgegaan en die land Salísa deurgegaan, maar hulle nie gekry nie; en hulle het die land Sáälim deurgegaan, maar daar was niks nie; en hy het die land Benjamin deurgegaan, maar hulle het niks gekry nie.
5. Toe hulle in die land Suf kom, sê Saul aan die dienaar wat by hom was: Kom, laat ons teruggaan; anders sien my vader van die esels af en word oor ons besorg.
6. En hy antwoord hom: Maar kyk, in hierdie stad is ’n man van God, en die man is geëerd: alles wat hy spreek, kom sekerlik uit; laat ons nou daarheen gaan; miskien kan hy ons inlig oor die tog wat ons onderneem het.