1 Samuel 25:19-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. En sy het aan haar jongmanne gesê: Trek voor my uit; kyk, ek kom dadelik agter julle aan. Maar aan haar man Nabal het sy niks te kenne gegee nie.

20. En terwyl sy op die esel ry en in ’n kloof van die berg afdaal, kom Dawid en sy manne meteens af haar tegemoet, sodat sy hulle teëgekom het.

21. Dawid het al gedink: Net verniet het ek alles wat aan hierdie man behoort, in die woestyn beskerm, sodat daar nooit iets van sy goed vermis is nie; en hy vergeld my kwaad vir goed.

22. Mag God so aan die vyande van Dawid doen en so daaraan toedoen, as ek van almal wat aan hom behoort, tot môre een laat oorbly wat manlik is.

23. Toe Abígail Dawid sien, het sy gou van die esel afgeklim en voor Dawid op haar aangesig neergeval en na die aarde toe gebuig.

24. En sy het voor sy voete neergeval en gesê: Op mý, my heer, rus die skuld, maar laat u dienares tog voor u ore mag spreek, en luister na die woorde van u dienares.

25. My heer moet hom tog nie steur aan daardie deugniet van ’n man, aan Nabal nie; want soos sy naam is, so is hy; sy naam beteken dwaas, en dwaasheid is by hom. Maar wat my betref, u dienares het my heer se jongmanne wat u gestuur het, nie gesien nie.

26. En nou, my heer, so waar as die Here leef en u siel leef, dit is die Here wat u teruggehou het om in bloedskuld te geraak en u met eie hand te help; mag dan nou u vyande en die wat onheil soek teen my heer, soos Nabal word.

27. En laat nou hierdie geskenk wat u dienares vir my heer gebring het, aan die jongmanne gegee word wat op my heer se voetspore rondtrek.

28. Vergeef tog die oortreding van u dienares, want die Here sal sekerlik vir my heer ’n bestendige huis stig, omdat my heer die oorloë van die Here voer en in u hele lewe in u geen kwaad gevind is nie.

29. As ’n mens opstaan om u te agtervolg en u lewe te soek, mag die siel van my heer dan saamgebind wees in die bondeltjie van die lewendes by die Here u God; maar mag Hy die siel van u vyande uit die holte van die slinger wegslinger.

30. En as die Here aan my heer sal doen volgens al die goeie wat Hy aan u beloof het, en u aanstel as vors oor Israel,

31. dan sal daar vir u geen struikelblok en vir my heer geen gewetenswroeging wees dat u sonder oorsaak bloed vergiet het en my heer homself hulp verskaf het nie; en as die Here goed sal doen aan my heer, moet u aan u dienares dink.

1 Samuel 25