1 Samuel 20:11-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En Jónatan sê vir Dawid: Kom, laat ons uitgaan die veld in. En hulle twee het die veld ingegaan.

12. Daarop sê Jónatan vir Dawid: Die Here, die God van Israel, is getuie dat ek my vader môre of oormôre op hierdie tyd sal uitvra; en as dit gunstig is vir Dawid, sal ek dan nie na jou stuur en jou dit openbaar nie?

13. Mag die Here so aan Jónatan doen en so daaraan toedoen: as my vader goedvind om onheil oor jou te bring, dan sal ek jou dit openbaar en jou laat gaan, dat jy veilig kan wegkom; en mag die Here met jou wees soos Hy met my vader gewees het.

14. En sal jy my nie, as ek dan nog lewe, die guns van die Here bewys nie, sodat ek nie sterwe nie?

15. Jy sal ook nimmer aan my huis jou guns onttrek nie; wanneer die Here die vyande van Dawid, een vir een, van die aarde af uitroei nie.

16. So het Jónatan dan ’n verbond gesluit met die huis van Dawid. En die Here het dit geëis van die hand van Dawid se vyande.

17. En Jónatan het Dawid weer laat sweer by sy liefde vir hom; want hy het hom liefgehad met die liefde van sy siel.

18. Verder het Jónatan vir hom gesê: Môre is dit nuwemaan, en jy sal gemis word, want jou sitplek sal leeg wees.

19. Maar oormôre moet jy sekerlik afkom en gaan na die plek waar jy jou op die werkdag weggesteek het, en jy moet langs die klip Esel gaan sit.

20. Dan sal ek drie pyle aan die kant daarvan skiet asof ek na ’n teiken skiet.

21. En kyk, ek sal die dienaar stuur en sê: Gaan soek die pyle! As ek uitdruklik aan die dienaar sê: Daar is die pyle, van jou af duskant toe, bring dit — dan kan jy maar kom; want jy is veilig en daar is niks nie, so waar as die Here leef!

22. Maar as ek só aan die jongman sê: Daar lê die pyle van jou af, verder — gaan dan weg, want die Here stuur jou weg.

23. En wat die saak aangaan wat ons bespreek het, ek en jy — kyk, die Here is tussen my en jou tot in ewigheid.

24. Daarop het Dawid hom in die veld weggesteek. En toe dit nuwemaan was, gaan die koning aan die maaltyd sit om te eet —

25. die koning het op sy sitplek gaan sit soos die vorige kere, op die sitplek teen die muur; en Jónatan het opgestaan, en Abner het langs Saul gesit, maar Dawid se plek was leeg.

26. En Saul het dié dag niks gepraat nie, want hy het gedink: Daar het iets met hom gebeur dat hy nie rein is nie; waarlik, hy is nie rein nie.

27. Maar toe op die volgende, die tweede dag na die nuwemaan, Dawid se plek leeg was, sê Saul vir sy seun Jónatan: Waarom kom die seun van Ísai gister sowel as vandag nie na die maaltyd nie?

28. En Jónatan het Saul geantwoord: Dawid het my dringend verlof gevra na Betlehem toe

29. en gesê: Laat my tog gaan, want ons het ’n familie-offer in die stad, en my broer self het my laat roep. As ek dan nou guns in jou oë gevind het, laat my tog heengaan om my broers te besoek. Daarom het hy nie aan die koning se tafel gekom nie.

1 Samuel 20