13. Die handelwyse van die priesters teenoor die volk was só: As iemand ’n offer slag, dan kom die dienaar van die priester, net soos die vleis kook, met die drietandvurk in sy hand,
14. en steek in die kastrol of in die pot of in die pan of in die skottel: alles wat die vurk optrek, neem die priester vir homself. So het hulle met al die Israeliete gedoen wat daar, in Silo, gekom het.
15. Selfs voordat hulle die vet aan die brand steek, kom die dienaar van die priester en sê aan die man wat offer: Gee vleis om vir die priester te braai, want hy sal nie gekookte nie, maar net rou vleis van jou neem.
16. As die man vir hom sê: Laat hulle net eers die vet aan die brand steek, neem dan vir jou soos jou siel begeer — dan sê hy: Nee, maar jy moet dit nou gee; en so nie, dan neem ek dit met geweld.
17. En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die Here, want die mense het die offer aan die Here verag.
18. Maar Samuel het as seun gedien voor die aangesig van die Here, omgord met ’n linneskouerkleed.
19. En sy moeder was gewoond om vir hom ’n klein manteltjie te maak wat sy van jaar tot jaar vir hom gebring het as sy met haar man opgaan om die jaarlikse offer te bring.
20. Dan seën Eli Élkana en sy vrou en sê: Mag die Here jou ’n nageslag gee uit hierdie vrou ter vergoeding van wat aan die Here afgestaan is. Daarop gaan hulle na sy woonplek toe.
21. En die Here het ag gegee op Hanna, sodat sy swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gebaar het; en die seun Samuel het groot geword by die Here.
22. Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms,
23. dan sê hy vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor?
24. Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die Here oortree.
25. As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ’n mens teen die Here sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree? Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die Here wou hulle ombring.
26. Maar die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die Here sowel as by die mense.
27. EN daar het ’n man van God by Eli gekom en vir hom gesê: So spreek die Here: Het Ek My nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou vader toe hulle in Egipte in die huis van Farao was nie?
28. En Ek het hom vir My as priester uitgekies uit al die stamme van Israel om op my altaar te klim om die reukwerk aan die brand te steek, om die skouerkleed te dra voor my aangesig; en Ek het aan die huis van jou vader al die vuuroffers van die kinders van Israel gegee.