1 Samuel 17:17-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Toe het Ísai aan sy seun Dawid gesê: Neem tog vir jou broers’n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en bring dit gou vir jou broers na die laer toe.

18. Maar hierdie tien skywe kaas moet jy bring na die owerste oor duisend, en jy moet ondersoek doen na die welstand van jou broers en van hulle ’n pand saambring.

19. En Saul en hulle en al die manne van Israel was besig om te veg teen die Filistyne in die dal van die terpentynboom.

20. En die volgende môre vroeg het Dawid hom klaargemaak: die kleinvee aan die wagter afgegee en opgelaai en weggegaan soos Ísai hom beveel het. En toe hy by die wa-laer kom, hef die leërmag wat na die vegterrein uittrek, juis die krygsgeskreeu aan.

21. Israel sowel as die Filistyne het slagorde teenoor slagorde opgestel.

22. Daarop gee Dawid sy pakgoed af onder bewaring van die oppasser van die pakgoed, en hy hardloop na die vegterrein. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers na die welstand.

23. En terwyl hy met hulle spreek, kom juis die baasvegter — Góliat is sy naam, die Filistyn uit Gat — uit die slagordes van die Filistyne op en spreek daardie selfde woorde, sodat Dawid dit hoor.

24. Maar toe al die manne van Israel die man sien, vlug hulle vir hom weg, want hulle was baie bang.

25. En die manne van Israel sê: Het julle die man gesien wat daar opkom? Want hy kom op om Israel uit te daag. En die koning sal die man wat hom verslaan, oorlaai met groot rykdom; ook sal hy sy dogter aan hom gee en sy familie in Israel vrystel van belasting.

26. Daarop het Dawid die manne wat by hom staan, gevra en gesê: Wat sal met die man gebeur wat hierdie Filistyn verslaan en die smaad van Israel wegneem? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?

27. En die manskappe gee hom dieselfde antwoord: Só sal met die man gebeur wat hom verslaan.

28. Toe sy oudste broer Elíab hom met die manne hoor spreek, het Elíab baie kwaad geword vir Dawid en gesê: Waarom het jy eintlik afgekom, en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien.

29. En Dawid sê: Wat het ek nou gedoen? Ek vra maar net.

30. En hy het by hom weggedraai na iemand anders en dieselfde woorde gespreek, en die manskappe het hom geantwoord volgens die eerste woorde.

31. Toe hulle die woorde hoor wat Dawid spreek en dit voor Saul meedeel, het dié hom laat haal.

1 Samuel 17