10. En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daar aan; en Saul het uitgegaan hom tegemoet om hom te groet.
11. Daarop vra Samuel: Wat het jy gedoen? En Saul sê: Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom,
12. het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die Here nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring.
13. Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die Here jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die Here jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het.
14. Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die Here het vir Hom ’n man na sy hart gesoek; en die Here het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die Here jou beveel het nie.
15. Toe het Samuel klaargemaak en opgegaan van Gilgal na Gíbea in Benjamin, en Saul het die manskappe gemonster wat by hom aanwesig was, omtrent seshonderd man.
16. Terwyl Saul en sy seun Jónatan en die manskappe wat by hulle aanwesig was, in Geba in Benjamin bly en die Filistyne by Migmas laer opslaan,
17. het die roofkommando uitgetrek uit die laer van die Filistyne in drie afdelings: een deel het weggedraai op pad na Ofra, na die land Sual toe;
18. en een deel het weggedraai op pad na Bet-Horon, en een deel het weggedraai op pad na die grens wat oor die dal Sebóim na die woestyn uitkyk.
19. En daar was geen smid te vinde in die hele land van Israel nie, want die Filistyne het gesê: Anders kan die Hebreërs swaarde of spiese maak.
20. Daarom moes al die Israeliete na die Filistyne afgaan om elkeen sy kluitbreker of sy pik of sy byl of sy ploegskaar skerp te maak —
21. so dikwels as die snykant stomp was aan ploegskare en pikke en drietandvurke en byle; en om die osprikkels reg te maak.
22. So het dit gekom dat daar in oorlogstyd geen swaard of spies te vinde was in die hand van al die manskappe wat by Saul en Jónatan was nie; maar by Saul en sy seun Jónatan was dit wel te vinde.
23. En ’n wagpos van die Filistyne het uitgetrek na die pas van Migmas.