11. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
12. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
13. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
14. DAAROM, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.
15. Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê:
16. die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?
17. Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.
18. Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie?
19. Wat sê ek dan? Dat ’n afgod iets is, of dat ’n afgodsoffer iets is?
20. Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.
21. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.
22. Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?
23. ALLES is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie.
24. Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ’n ander.
25. Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete.
26. Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.
27. En as een van die ongelowiges julle nooi en julle is gewillig om te gaan, eet dan alles wat julle voorgesit word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete.
28. Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer — moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit te kenne gegee het, en ter wille van die gewete — want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan —
29. ek bedoel die gewete, nie van jouself nie, maar van die ander; want waarom word my vryheid geoordeel deur ’n ander se gewete?