Spreuke 15:10-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Wie die regte pad verlaat, sal swaar gestraf word. Hy wat berisping haat, sal sterf.

11. Die Here weet wat gebeur in die doderyk en in die onderaardse dieptes. Hoeveel te meer weet Hy wat aangaan in mense se harte.

12. ’n Spotter hou nie van die persoonwat hom teregwys nie. Hy vra nie raad by ’n wyse nie.

13. Blydskap laat ’n mens se gesig straal. Hartseer maak ’n mens terneergedruk.

14. ’n Verstandige mens soek ernstig na kennis. ’n Dwase mens teer op dwaasheid.

15. Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ’n fees.

16. Dit is baie beter om min te hê en ook respek vir die Here,as om groot rykdom te besit met die onrus daarmee saam.

17. Liewer net ’n skeppie groente saam met iemand vir wie jy lief is, as ’n lekker stuk beesvleis en haat daarmee saam.

18. ’n Humeurige mens sit twis aan die gang. ’n Verdraagsame mens sit ’n stryery stop.

19. ’n Luiaard se pad is met dorings besaai. ’n Opregte mens se pad is gelyk.

20. ’n Verstandige seun maak sy pa bly. ’n Dwase seun het geen respek vir sy ma nie.

21. Iemand sonder verstandput vreugde uit sy dwaasheid. Iemand met insigbly op die regte pad.

22. Sonder beplanningloop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers.

Spreuke 15