Romeine 12:7-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. As dit is om ander te dien, doen dit met oorgawe. As jy onderrig gee, gee dan kwaliteitonderrig.

8. As dit is om ander op te beur, lê jou daarop toe. As jy materiële ondersteuning kan gee, doen dit sonder bymotiewe. As God aan jou leierseienskappe gegee het, hanteer dit met toewyding. En as jy die gawe het om ander in hulle nood by te staan, doen dit met ’n vrolike hart.

9. Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit jou hart. Haat alles wat verkeerd is; kies kant vir wat goed is.

10. As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.

11. Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here.

12. Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie.

13. As medegelowiges in nood verkeer, wees jy die een om ’n helpende hand na hulle toe uit te steek. Maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees – maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie.

14. As mense julle oor julle geloof vervolg, moenie ’n vloek oor hulle uitspreek nie, maar vra God om hulle te seën.

15. As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle. As hulle hartseer is, deel dit met hulle.

16. Konsentreer op dit wat onderlinge eensgesindheid bevorder. Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges. Moenie dink dat net julle altyd reg is nie.

17. Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief teenoor alle mense.

18. Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.

19. Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.”

20. Doen eerder wat die Skrif sê: “As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.”

21. Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom.

Romeine 12