12. Eintlik bedoel ek dat ons mekáár dan oor en weer sal kan bemoedig deur ons gemeenskaplike geloof.
13. Broers en susters, julle moet beslis weet dat ek my al dikwels voorgeneem het om na julle toe te kom. Ek hoop om ook onder julle ’n geseënde bediening te hê, net soos onder die ander nie-Jode waar ek gewerk het.
14. Ek het ’n groot verantwoordelikheid teenoor almal – maak nie saak of hulle van ons eie kultuur of van ’n ander kultuur is, of hoe opgevoed of onopgevoed hulle is nie.
15. Daarom is ek gretig om ook aan julle in Rome die Goeie Nuus te verkondig.
16. Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode.
17. Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”
18. Van sy hemelse woonplek af maak God sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk.
19. In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak.
20. Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie.
21. Ja, hulle het ’n Godsbesef gehad, maar tog het hulle Hom nie as God geëer of aan Hom dankbaarheid betoon nie. Inteendeel, hulle het vir hulleself allerlei belaglike voorstellings oor ’n godheid begin maak en hulle verdwaasde harte het heeltemal toegeslaan.
22. Alhoewel hulle daarop aanspraak maak dat hulle danig slim is, het hulle in werklikheid heeltemal in dwaasheid verval – in so ’n mate
23. dat hulle die verering van die onsterflike God met afgode vervang het wat sterflike mense en voëls en diere en slange uitbeeld.
24. Om hierdie rede het God hulle aan hulle eie sondige hartstogte oorgegee, met die gevolg dat hulle onsedelikheid begin bedryf het deur oor en weer immorele praktyke met mekaar se liggame te beoefen.
25. Hulle het immers so ver gegaan om die ware kennis van God te verkwansel vir die leuen en God se handewerk te vereer en te dien in plaas van die Skepper self – dié God wat vir ewig geprys behoort te word. Amen!
26. Dit is daarom dat God hulle oorgegee het aan hulle eie skandelike drifte. Selfs die vroue het die natuurlike seksuele verkeer verruil vir wat teen die natuur is, naamlik dié met ander vroue.
27. Op dieselfde manier het die mans die natuurlike manier om seksueel te verkeer prysgegee en ’n brandende begeerte na mekaar begin koester. Mans het skandelike dade met mekaar bedryf. Gevolglik moes hulle in hulle eie persoon die duur prys vir hulle perversiteit betaal.
28. Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge.
29. Hulle lewe word gekenmerk deur elke vorm van ongeregtigheid, boosheid, grypsug, kwaadwilligheid; hulle is vol jaloesie, moord, twisgierigheid, skelmstreke, slegte bedoelings en skinderpraatjies.