Rigters 9:37-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

37. Gaäl het toe weer vir hom gesê: “Nee, kyk mooi, daar is mense wat van die hoogste punt van die land af kom. ’n Ander groep is aan die kom uit die koers van die waarsêersboom.”

38. Toe sê Sebul vir hom: “Waar is jou groot mond nou? Jy het mos gesê: ‘Wie is Abimelek dan dat ons na hom moet luister?’ Hulle wat daar aankom, is mos die mense oor wie jy soveel te sê gehad het. Trek nou uit en gaan veg teen hom!”

39. Gaäl, met die mense uit Sigem agter hom, het uitgetrek om teen Abimelek te gaan veg.

40. Abimelek het egter vir Gaäl laat terugval en hy het vir Abimelek gevlug. Baie mense is doodgemaak en het rondom die stadspoort gelê.

41. Abimelek is terug na Aruma. Sebul het vir Gaäl en sy mense uit Sigem verdryf. Hulle kon nie langer daar woon nie.

42. Die mense van Sigem het toe die volgende oggend uitgetrek om te gaan veg. Abimelek het daarvan gehoor.

43. Hy het sy manskappe in drie groepe verdeel en in die veld gaan wegkruip. Toe hulle die mense uit die stad sien kom, het hulle uit hulle skuilplekke opgespring en die mense aangeval.

44. Die groep by Abimelek het op die poort afgestorm en in die ingang van die stad gaan stelling inneem. Die ander twee groepe het die mense in die oop veld aangeval.

Rigters 9