13. Ook die wingerdstok het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou om my wyn te gee wat God en mense se harte bly maak net om oor die bome te regeer?’
14. “Laaste vra al die bome toe vir die doringbos: ‘Kom jy, kom wees jy koning oor ons.’
15. En die doringbos sê vir hulle: ‘As julle my regtig wil salf as koning oor julle, moet julle in my skaduwee kom staan. As julle dit nie wil nie doen nie, sal daar vuur uit my dorings kom en die sederbome van die Libanon verteer.’
16. “Dink ’n bietjie na of julle eerbaar en in goeie trou opgetree het toe julle vir Abimelek koning gemaak het. Het julle reg gemaak met Jerubbaäl en sy nageslag? Het julle hom die eer gegee wat hom toekom?
17. My pa het ter wille van julle gaan oorlog maak. Hy het sy lewe vir julle gewaag. Hy het julle van die Midianiete bevry.
18. Julle het vandag met sy nageslag swaarde gekruis. Julle het sy 70 seuns almal op een klip doodgemaak. Mense van Sigem, julle het sy slavin se seun Abimelek koning gaan maak, net omdat hy julle familie is.
19. As julle vandag eerbaar en opreg teenoor Jerubbaäl en sy huis opgetree het, mag julle dan bly wees oor Abimelek en mag hy vreugde in julle vind.
20. As dit nie die geval is nie, mag daar dan ’n vuur uit Abimelek kom wat die mense van Sigem en die mense van Millo verteer. Mag daar dan ook ’n vuur uit die mense van Sigem en die mense van Millo kom wat Abimelek verteer.”
21. Jotam het toe gevlug en in Beër gaan bly. Hy was bang vir sy broer Abimelek.
22. Abimelek het drie jaar lank oor Israel regeer.
23. God het struweling tussen Abimelek en die mense van Sigem laat kom. Hulle het teen Abimelek in verset gekom.
24. God het Abimelek vergeld vir die geweld wat hy sy broers, die 70 seuns van Jerubbaäl, aangedoen het toe hy hulle vermoor het. God het die mense van Sigem gestraf omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor.
25. Die mense van Sigem het hinderlae vir Abimelek op die bergtoppe opgestel. Hulle het almal beroof wat daar verbygekom het. Abimelek het hiervan gehoor.
26. Gaäl, die seun van Ebed, het saam met sy familie na Sigem toe getrek. Hulle het die vertroue van die mense van Sigem gewen.
27. Op ’n keer het hy en sy mense uitgegaan in die veld. Hulle het druiwe gepluk en dit gepars om fees te hou. Hulle het in hulle god se tempel ingegaan en begin eet en drink. Hulle het Abimelek begin slegsê.
28. Ebed se seun Gaäl het gevra: “En wie is Abimelek nogal? Kom hy van Sigem dat ons na hom moet luister? Hy is maar net Jerubbaäl se seun. Sy generaal is maar net Sebul. Ons moet eerder na Sigem se ware afstammelinge in Gamor luister. Waarom moet ons ons aan Abimelek onderwerp?
29. As ek hier in beheer was, sou ek Abimelek weggejaag het.” Gaäl het vir Abimelek uitgedaag: “Kry jou leër bymekaar en kom veg teen my!”