Rigters 20:2-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Die leiers van die hele volk en van elke stam van Israel het vir die vergadering van die volk van God bymekaargekom. Daar was 400 000 gewapende soldate bymekaar.

3. Die Benjaminiete het ook gehoor dat die ander Israeliete by Mispa saamgetrek het. Die Israeliete het begin praat oor hierdie lelike ding wat gebeur het.

4. Die Leviet, die vermoorde vrou se man, vertel toe: “Ek en my vrou het in Gibea van Benjamin gekom om die nag daar oor te bly.

5. Daardie nag het mense van Gibea die huis waarin ek was, omsingel. Hulle wou my doodmaak. Hulle het my byvrou verkrag totdat sy dood is.

6. Ek het my byvrou se liggaam opgesny en dit deur die hele gebied van Israel rondgestuur. Die mense van Gibea het ’n afskuwelike en sinnelose ding in Israel gedoen.

7. Die hele gemeenskap van Israel moet nou koppe bymekaarsit en besluit wat om hieraan te doen.”

8. Die hele volk het saamgestaan en soos uit een mond verklaar: “Niemand mag teruggaan huis toe nie.

9. Ons sal lootjies trek om te bepaal wie Gibea eerste moet aanval.

10. Een tiende uit elke stam van Israel sal kos by die volk gaan haal vir die soldate. Al die ander sal wraak neem op Gibea in Benjamin vir die skandelike ding wat hulle in Israel gedoen het.”

11. Al die Israeliete was dit eens en het bymekaargekom om Gibea aan te val.

12. Die Israeliete het mense na al die families in Benjamin gestuur om vir hulle te sê: “Daar het ’n skrikwekkende ding by julle gebeur.

13. Oorhandig daardie skurke van Gibea aan ons sodat ons hulle kan teregstel en so die kwaad in Israel kan uitroei.” Die mense van Benjamin was nie bereid om na hulle volksgenote te luister nie.

14. Die Benjaminiete het uit al hulle stede by Gibea bymekaargekom om teen die ander Israeliete oorlog te maak.

15. Daar het op daardie dag 26 000 gewapende soldate uit die stede van Benjamin bymekaargekom. Hulle het aangesluit by die 700 soldate wat in Gibea gebly het.

16. Onder hulle was daar 700 uitgesoekte soldate wat almal links was. Hulle kon haarfyn met ’n klip uit ’n slingervel korrel sonder om een keer te mis.

Rigters 20