Openbaring 21:12-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Die stad het ook ’n groot en hoë muur gehad waarin twaalf poorte was. By die poorte is daar twaalf engele, met twaalf name op die poorte gegraveer; dit is die name van die twaalf stamme van Israel.

13. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie.

14. Die stadsmuur het twaalf fondamentstene waarop die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam geskryf staan.

15. Die engel wat met my in gesprek was, het ’n goue liniaal vasgehou. Die doel was om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet.

16. Die stad is vierkantig uitgelê, sy lengte dieselfde as sy breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en ook die hoogte daarvan is dieselfde – 12 000 stadia.

17. Hy het ook die muur van die stad gemeet. Dit is 144 el hoog. (Die engel het volgens ’n aardse maat gemeet.)

18. Die boumateriaal van die muur is jaspis en dié van die stad self suiwer goud, so helder soos skoon glas.

19. Die fondamentstene van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier: die eerste fondamentsteen met jaspis, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag,

20. die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agtste met berilsteen, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint, en die twaalfde met ametis.

21. Die twaalf poorte is van twaalf pêrels gemaak. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, so helder soos deurskynende glas.

22. Ek het nie ’n tempel in die stad gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is sy tempel.

23. Die stad het ook nie die son en die maan nodig om dit te verlig nie, want die heerlikheid van God het dit verlig, en die Lam is sy kandelaar.

Openbaring 21