1. Een van die sewe engele wat die sewe bakke vashou, het nadergekom en met my gepraat: “Kom, ek sal jou die oordeel wys wat oor die groot prostituut, wat by die baie waterstrome bly, gaan kom.
2. Die konings van die aarde het ongeoorloofde seks met haar gehad, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar seksuele wanpraktyke.”
3. Die engel het my toe deur die Gees meegevoer na die woestyn toe. Daar het ek ’n vrou gesien wat op ’n bloedrooi monster sit. Die monster was aan alle kante vol godslasterlike name geskryf, en hy het sewe koppe en tien horings gehad.
4. Die vrou het pers en bloedrooi klere aangehad en was getooi met goud, kosbare stene en pêrels. In haar hand het sy ’n goue beker gevul met vieslikhede en die onrein dinge van haar seksuele wanpraktyke vasgehou.
5. Op haar voorkop was ’n geheimsinnige naam geskryf: “Groot Babilon, die moeder van dié wat seksuele wanpraktyke beoefen en van die losbandighede op die aarde.”
6. Ek het ook gesien dat die vrou dronk was van die bloed van hulle wat aan God toegewy is, van die bloed van hulle wat getuies van Jesus is. Ek het haar aangestaar, geheel en al verwonderd.