Openbaring 11:4-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Hulle is die twee olyfbome en ook die twee kandelare wat voor die Here van die hele aarde staan.

5. As iemand hulle leed wil aandoen, kom daar vuurvlamme uit hulle monde wat hulle vyande verbrand. Elkeen wat hulle leed wil aandoen, moet só doodgemaak word.

6. Hulle beskik oor die mag om die hemel te sluit sodat dit nie sal reën nie vir die volle tyd wat hulle die wil van God verkondig. Hulle beskik ook oor die mag om die waters in bloed te verander en om die aarde met elke moontlike plaag te tref, so dikwels as wat hulle dit nodig vind.

7. Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die bodemlose put uit opgekom het, teen hulle oorlog maak en hy sal hulle oorwin en doodmaak.

8. Hulle lyke sal langs die breë straat van die groot stad lê. Dit is die stad wat figuurlik Sodom en Egipte genoem word, waar hulle Here ook gekruisig is.

9. Vir drie en ’n half dae lank sal mense vanuit al die volke, stamme, taalgroepe en nasies hulle lyke sien lê. En hulle sal nie toelaat dat die lyke in ’n grafkamer begrawe word nie.

10. Die bewoners van die aarde sal juig oor hulle dood en hulle sal baie bly wees daaroor en aan mekaar geskenke stuur, omdat hierdie twee profete die bewoners van die aarde geteister het.

11. Maar na drie en ’n half dae het die lewegewende Gees van God in hulle gekom. Toe hulle op hulle voete orent kom, het ’n groot skrik almal wat hulle gesien het, oorweldig.

12. Hulle het ook ’n kragtige stem van die hemel af hoor sê: “Kom op hierheen!” Hulle het toe in ’n wolk na die hemel toe opgevaar terwyl hulle vyande toekyk.

13. Op daardie selfde uur was daar ’n geweldige aardbewing en ’n tiende van die stad het inmekaargetuimel. In die aardbewing is 7 000 mense gedood en die oorblywende mense het beangs geword en aan die God van die hemel eer betoon.

14. Die tweede verskrikking is verby. Kyk, die derde een kom spoedig.

15. Die sewende engel het toe op sy trompet geblaas. Daar was kragtige stemme in die hemel wat sê: “Die koninklike heerskappy oor die wêreld behoort nou aan ons Here en sy Christus, en Hy sal as koning heers vir altyd.”

16. Die 24 ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, het op hulle gesigte neergeval en God aanbid

17. en gesê:“Here God, Almagtige,U wat is en wat was,ons dank U dat U nou u groot mag opgeneem heten as koning heers.

Openbaring 11