4. Moses het toe vir die Israeliete gesê om die Paasfees te hou.
5. Hulle het dit in die Sinaiwoestyn gevier op die veertiende dag van die eerste maand, teen aandskemer. Hulle het dit gehou presies soos die Here vir Moses beveel het.
6. Daar was egter mans wat onrein was omdat hulle aan ’n lyk moes vat. Hulle kon nie die Paasfees op daardie dag vier nie. Hulle het toe met Moses en Aäron daaroor kom praat.
7. Hulle het gesê: “Ons is onrein, want ons moes met ’n lyk werk. Waarom moet ons daarvan uitgesluit word om die Here se offer op hierdie tyd saam met die res van Israel te bring?”
8. Moses het gesê: “Wag net hier dat ek vir die Here kan vra wat Hy oor julle geval sê.”
9. Die Here het Moses geantwoord:
10. “Sê vir die Israeliete: As dit tyd is vir die Paasfees en iemand het onrein geword omdat hy ’n lyk moes hanteer, of hy is ver weg van die huis af, mag hy nog steeds die Paasfees vier.
11. Hulle moet dit egter ’n maand later vier op die veertiende dag teen skemeraand. Hulle moet op daardie dag die Paaslam eet saam met die ongesuurde brood en die bitter kruie.
12. Daar mag niks daarvan oor wees teen die volgende oggend nie. Hulle mag ook nie die lam se bene breek nie. Hulle moet verder al die gewone voorskrifte vir die Paasfees volg.
13. “Dié wat nie onrein is nie, en nie weg is van die huis af nie, en nogtans nalaat om die Paasfees te vier, sal uit my volk verban word. Hulle het nie op die bepaalde tyd die Here se offer gebring nie. Hulle sal die gevolge van hulle oortreding moet dra.