1. Die Here het ’n opdrag aan Moses in die Sinaiwoestyn in die vroeë lente gegee. Dit was in die tweede jaar nadat hulle uit Egipte weg is. Hy het vir hom gesê:
2. “Die Israeliete moet die Paasfees op die regte tyd hou.
3. Julle moet die Paasfees vier op die veertiende dag van hierdie maand, teen aandskemer. Julle moet dit vier volgens die voorskrifte en reëls wat Ek vir julle gegee het.”
4. Moses het toe vir die Israeliete gesê om die Paasfees te hou.
5. Hulle het dit in die Sinaiwoestyn gevier op die veertiende dag van die eerste maand, teen aandskemer. Hulle het dit gehou presies soos die Here vir Moses beveel het.
6. Daar was egter mans wat onrein was omdat hulle aan ’n lyk moes vat. Hulle kon nie die Paasfees op daardie dag vier nie. Hulle het toe met Moses en Aäron daaroor kom praat.
7. Hulle het gesê: “Ons is onrein, want ons moes met ’n lyk werk. Waarom moet ons daarvan uitgesluit word om die Here se offer op hierdie tyd saam met die res van Israel te bring?”
8. Moses het gesê: “Wag net hier dat ek vir die Here kan vra wat Hy oor julle geval sê.”
9. Die Here het Moses geantwoord:
10. “Sê vir die Israeliete: As dit tyd is vir die Paasfees en iemand het onrein geword omdat hy ’n lyk moes hanteer, of hy is ver weg van die huis af, mag hy nog steeds die Paasfees vier.