Numeri 31:24-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Julle moet julle klere op die sewende dag was. Julle sal dan rein wees. Daarna mag julle terugkeer na die kamp toe.”

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Jy en die priester Eleasar en die leiers van die stamme moet ’n opname maak van al die mense wat julle gevange geneem het en van al die diere wat julle buitgemaak het.

27. Jy moet dit dan verdeel tussen hulle wat gaan oorlog maak het en die res van die mense.

28. Staan aan die Here sy deel af van die gevangenes, die beeste, die donkies en die vee wat die oorlog opgelewer het. My deel is een uit elke 500.

29. Die gedeelte wat jy by hulle vat, moet jy aan die priester Eleasar gee as ’n offergawe aan die Here.

30. Vat uit die volk se deel een uit elke 50 van die mense, die beeste, die donkies, die kleinvee en die ander diere wat gevange geneem is. Gee dit vir die Leviete wat by die tabernakel werk.”

31. Moses en die priester Eleasar het gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

32. Die buit wat die mans wat gaan veg het, gemaak het, was 675 000 skape,

33. 72 000 beeste,

34. 61 000 donkies,

35. en 32 000 meisies wat nog nie ’n man gehad het nie.

36. Die deel van die soldate wat gaan veg het, was 337 500 skape

37. waarvan hulle 675 vir die Here gegee het,

38. 36 000 beeste waarvan 72 die Here s’n was,

39. 30 500 donkies waarvan 61 vir die Here gegaan het,

Numeri 31