Numeri 31:19-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Elkeen van julle wat iemand doodgemaak het, of aan ’n lyk gevat het, moet sewe dae lank buite die kamp bly. Julle moet julleself en die mense wat julle gevange geneem het op die derde en die sewende dag reinig.

20. Was al julle klere en reinig alles wat van leer, bokhaar of hout gemaak is.”

21. Die priester Eleasar het toe vir die mans wat gaan oorlog maak het, gesê: “Die voorskrif wat die Here vir Moses gegee het, is:

22. Enigiets wat van goud, silwer, brons, yster, tin, of lood gemaak is,

23. alles wat nie met vuur vernietig kan word nie, moet julle in vuur reinig. Daarna moet dit met reinigingswater skoongemaak word. Alles wat in die vuur kan verbrand, hoef net met reinigingswater skoongemaak te word.

24. Julle moet julle klere op die sewende dag was. Julle sal dan rein wees. Daarna mag julle terugkeer na die kamp toe.”

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Jy en die priester Eleasar en die leiers van die stamme moet ’n opname maak van al die mense wat julle gevange geneem het en van al die diere wat julle buitgemaak het.

27. Jy moet dit dan verdeel tussen hulle wat gaan oorlog maak het en die res van die mense.

Numeri 31