26. Hierdie mense het in die tyd van Jojakim seun van Jesua, seun van Josadak, en in die tyd van die goewerneur Nehemia en die priester en skrifkenner Esra diens gedoen.
27. Met die inwyding van die muur om Jerusalem het hulle die Leviete oral by hulle huise gaan soek en gevra om na Jerusalem toe te kom. Hulle moes met die seremonies help en met lofliedere en die musiek van simbale, harpe en liere aan die feesvierings deelneem.
28. Hulle het sangers uit die omgewing van Jerusalem en uit die Netofanedorpies bymekaargebring.
29. Verder ook uit Bet-Gilgal en uit die landelike gebiede van Geba en Bet-Asmawet. Die sangers het almal hulle blyplekke rondom Jerusalem gebou.
30. Die priesters en die Leviete het eers hulleself gereinig en daarna die mense, die poorte en die muur.
31. Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim en toe twee groot kore saamgestel om lofliedere te sing. Ek het die een koor suid op die muur langs laat loop tot by die Vullispoort.
32. Agter hulle het Hosaja en die helfte van die leiers van Juda geloop,
33. en verder Asarja, Esra, Mesullam,
34. Juda en Benjamin, Semaja en Jeremia.
35. Daar het ook ’n aantal priesters met trompette geloop. Hulle was Sagaria seun van Jonatan, seun van Semaja, seun van Mattanja, seun van Miga, seun van Sakkur, seun van Asaf.
36. Laastens het sy medewerkers Semaja, Asarel, Milalai, Gilalai, Maäi, Netanel, Juda en Ganani met die musiekinstrumente van Dawid, die man van God, gekom. Die skrifkenner Esra het die optog gelei.
37. By die Fonteinpoort het hulle reguit met die trappe teen die skuinste van die muur opgestap na die Dawidstad toe. Hulle het bokant die paleis van Dawid langs gestap tot by die Waterpoort aan die oostekant.