Matteus 24:31-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. Ek sal my engele met die magtige klank van ’n basuin uitstuur en hulle sal my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaarmaak, ja, selfs vanaf die verste uithoeke van die wêreld.”

32. “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, besef julle dat die somer op hande is.

33. Net so kan julle, wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, weet dat die einde op hande is.

34. Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie.

35. Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan.”

36. “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader.

37. “Wanneer Ek, die Seun van die Mens, verskyn, sal dit gaan soos in die tyd van Noag.

38. Destyds, voor die groot vloedwater gekom het, het die mense soos gewoonlik voortgegaan om fees te vier en oor en weer te trou, selfs nog totdat Noag in die ark ingegaan het.

39. Hulle het eers besef wat aan die gang was toe die vloedwater kom en hulle almal verswelg het. Net so sal die koms van die Seun van die Mens wees.

40. “Twee persone sal saam op die land werk. Die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word.

41. Twee vroue sal saam by die meul koring maal. Die een sal saamgeneem en die ander een sal agtergelaat word.

42. Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie.

Matteus 24