25. ‘Kom die doop wat Johannes beoefen het, van God af, of was dit maar ’n bloot menslike saak?’”Hulle het toe onder mekaar beraadslaag: “As ons sê dat dit van God af kom, gaan hy vir ons sê: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’
26. “Maar as ons sê dit was maar net ’n bloot menslike saak, sal ons vir die volk moet oppas, want vir hulle is Johannes ’n profeet.”
27. Gevolglik het hulle Jesus geantwoord: “Ons weet nie.”Daarop was Jesus se reaksie: “Dan gaan Ek ook nie julle vraag beantwoord nie.”
28. “Maar wat dink julle hiervan?” sê Hy toe vir hulle. “’n Man wat twee seuns gehad het, het na die eerste een toe gegaan en vir hom gesê: ‘My kind, jy moet vandag in die wingerd gaan werk.’
29. ‘Ek is nie lus nie,’ was sy antwoord, maar later het hy spyt gekry en tog gaan werk.
30. Die pa gaan toe na die ander een toe en gee hom dieselfde opdrag. Dié antwoord toe: ‘Ek maak so, Pa,’ maar hy het tog nie gaan werk nie.
31. Wie van die twee was die gehoorsame een?”Hulle antwoord was: “Natuurlik die eerste een.”Toe sê Jesus vir hulle: “Ek verseker julle: Die tollenaars en die prostitute sal voor julle in God se koninkryk ingaan.
32. Want Johannes het na julle toe gekom en vir julle die regte pad aangewys, maar julle het sy prediking nie aanvaar nie. Die tollenaars en die prostitute het dit egter aanvaar. En selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en Johannes geglo nie.”
33. “Luister na nog ’n gelykenis. Die eienaar van ’n landgoed het ’n wingerd geplant en ’n klipmuur daar rondom gebou. Hy het ook ’n parskuip uitgekap en ’n uitkyktoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en na die buiteland vertrek.
34. Teen die tyd van die druiwe-oes stuur hy toe van sy slawe om sy deel van die oes te gaan haal.
35. Die boere het sy slawe egter gegryp; hulle het die een geslaan, ’n ander een doodgemaak en ’n derde een met klippe doodgegooi.
36. Vervolgens het die eienaar nog ’n groter groep slawe gestuur en die boere het dieselfde met hulle gedoen.
37. “Einde ten laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur, want hy het gedink: ‘Hulle sal my seun tog sekerlik ontsien.’
38. Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Hy is mos die erfgenaam. Kom ons maak hom dood en dan vat ons sy erfenis!’
39. Toe gryp hulle hom, smyt hom uit die wingerd en vermoor hom.
40. “Wat dink julle,” het Jesus gevra, “sal die eienaar van die wingerd met hierdie boere doen wanneer hy terugkom?”