Matteus 20:23-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. “Dis waar,” sê Hy, “julle sal ook daarvan drink. Maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. My Vader hou daardie plekke gereed vir dié wat Hy self uitgekies het.”

24. Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee broers wou hê, was hulle bitterlik verontwaardig.

25. Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle.

26. Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees.

27. En wie die eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees.

28. Net so het Ek, die Seun van die Mens, nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en boonop my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”

29. Toe Jesus en die dissipels uit Jerigo gaan, het baie mense agter Hom aangekom.

30. Twee blindes wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus daarlangs verbygaan. Hulle roep toe aanhoudend: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

31. Die skare het hulle aangespreek en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het net nog harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

32. Jesus het gaan staan en hulle laat roep. “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” vra Hy vir hulle.

33. Hulle het gesê: “Here, ons wil sien!”

34. Daarop het Jesus hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien, en hulle het agter Hom aan gegaan.

Matteus 20