Matteus 18:8-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. “Daarom, as jou hand of jou voet jou laat sondig, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om vermink of kreupel te lewe as om met al twee jou hande en al twee jou voete in die vuur gegooi te word wat nooit geblus sal word nie.

9. En as jou oog jou laat sonde doen, pluk dit uit en gooi dit weg. Dit is vir jou beter om halfblind in die hemel in te gaan as om met twee oë en al in die hel se vuur gegooi te word.

10. “Maak seker dat julle nie op een van hierdie kleinstes neersien nie. Besef julle dat die engele in die hemel wat oor hulle waak, elke oomblik in die teenwoordigheid van my hemelse Vader verkeer?”

12. “As iemand 100 skape het en een van hulle raak weg, wat dink julle sal hy doen? Sal hy nie die 99 net daar tussen die rantjies los en die wegloop-een gaan soek nie?

13. En as hy hom wel kry, wil Ek julle verseker hy sal blyer wees oor daardie een as oor die 99 wat nie weggeraak het nie!

14. “Net so wil julle Vader in die hemel nie hê dat één van hierdie kleinstes verlore gaan nie.”

Matteus 18