Matteus 12:28-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. “Maar as dit die Gees van God is wat My in staat stel om die duiwels uit te dryf, moet julle besef dat die koningsheerskappy van God nou by julle is.

29. Dis tog onmoontlik vir iemand om in ’n sterk man se huis in te gaan en hom van sy goed te beroof as hy daardie sterk man nie eers vooraf vasgebind het nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

30. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.

31. “Dít verseker Ek julle: God sal elke sonde of lastering vergewe, maar lastering teen die Heilige Gees sal Hy nie vergewe nie.

32. Enigiemand wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê – dit sal daardie persoon vergewe word. Maar wie die Heilige Gees belaster, sal nooit vergewe word nie, nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die toekomstige een nie.

33. “’n Boom word aan sy vrugte geken. ’n Goeie boom kan nie anders as om goeie vrugte te dra nie. En ’n slegte boom kan nie anders as om slegte vrugte te dra nie.

34. “Julle nes van adders! Julle is sleg. Daarom is dit vir julle onmoontlik om goeie dinge te praat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Matteus 12