29. Maar hulle het by Hom aangedring: “Bly by ons oor. Die son trek al water en die dag is verby.” Toe het Jesus by hulle ingedraai om saam met hulle oor te bly.
30. Terwyl hulle saam met Hom aan tafel was, het Jesus brood geneem, gedank, dit gebreek en aan hulle gegee.
31. Toe het hulle oë oopgegaan en hulle het Hom herken. Daarop het Hy voor hulle oë verdwyn.
32. Hulle sê toe vir mekaar: “Was ons harte nie vuur en vlam in ons toe Hy met ons op pad gepraat en die Skrif vir ons geïnterpreteer het nie?”
33. Hulle het daar en dan opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan en die elf aangetref en die ander saam met hulle,
34. wat die nuus vertel: “Die Here is regtig opgewek, en Hy het aan Simon verskyn!”
35. Toe vertel hulle wat op pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breek van die brood.
36. Terwyl hulle nog besig was om hierdie dinge te bespreek, het Jesus onverwags tussen hulle gestaan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”
37. Hulle het groot geskrik en beangs geword en gedink dat hulle ’n spook sien.
38. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verward en waarom kom daar twyfelgedagtes in julle harte op?
39. Kyk na my hande en my voete: Dis mos Ek self. Vat aan My en kyk! ’n Spook het tog nie vleis en bene soos julle kan sien dat Ek het nie.”
40. Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.
41. Toe hulle vanweë blydskap en verbasing nog nie glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle miskien iets te ete hier?”
42. Daarop gee hulle aan Hom ’n stuk gebakte vis.
43. Hy het dit geneem en in hulle teenwoordigheid opgeëet.