32. ’n lig om God aan die nasiesbekend te maak,en die glorie van u volk Israel!”
33. Josef en Maria was verbaas oor wat van Jesus gesê is.
34. Toe het Simeon hulle geseën en vir Maria gesê: “Hierdie Kind is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel, en ’n teken wat weerspreek sal word. Hy sal ’n teken wees waaroor mense sal verskil.
35. So sal die diepste gedagtes van baie harte bekend word. Maar wat jou betref – daar sal ’n swaard deur jou siel gaan.”
36. Anna, ’n profetes, was ook daar in die tempel. Sy was die dogter van Fanuel uit die stam van Aser, en sy was baie oud. Sy was ’n weduwee; haar man is oorlede toe hulle nog maar net sewe jaar getroud was.
37. Sy was nou 84 jaar oud. Sy was nooit weg van die tempel af nie en het dag en nag daar gebly en God gedien met vas en gebed.
38. Sy het daar aangekom net toe Simeon met Maria en Josef gepraat het, en sy het God begin prys. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat verlang het na die bevryding van Jerusalem.
39. Toe Jesus se ouers al die vereistes van die wet van die Here nagekom het, het hulle teruggekeer na hulle dorp, Nasaret in Galilea.
40. Daar het die Kindjie sterk en gesond grootgeword. Hy was vervul met wysheid, en God se guns was op Hom.
41. Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees.
42. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle soos gewoonlik die fees bygewoon.
43. Ná die feesviering het hulle na Nasaret vertrek, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly sonder dat sy ouers daarvan geweet het.
44. Sy ouers het Hom eers nie vermis nie omdat hulle gedink het Hy was by ander vriende in die reisgeselskap. Maar toe Hy die aand nog nie sy opwagting gemaak het nie, het hulle by familie en vriende na Hom begin soek.
45. Toe hulle Hom nie kon kry nie, is hulle terug na Jerusalem om daar na Hom te soek.
46. Drie dae later het hulle Hom uiteindelik gekry. Hy het in die tempel tussen die leermeesters gesit terwyl Hy na hulle luister en hulle uitvra.
47. Almal wat na Hom geluister het, was verbaas oor sy insig en antwoorde.
48. Toe sy ouers Hom sien, het hulle nie geweet wat om daarvan te dink nie. “Kind,” het sy ma vir Hom gesê, “waarom het jy so met ons gemaak? Ek en jou pa het rasend van bekommernis na jou gesoek!”
49. “Maar hoekom was dit nodig om te soek?” het Hy gevra. “Julle moes geweet het Ek sou in my Vader se huis wees.”
50. Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie.
51. Hy is toe saam met hulle terug na Nasaret en was gehoorsaam aan hulle. Sy ma het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
52. En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het.