Lukas 15:20-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. “Daarop het hy teruggegaan na sy pa toe. En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen.

21. Sy seun het vir hom gesê: ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie.’

22. “Maar sy pa sê vir die bediendes: ‘Gou, bring die mooiste mantel in die huis, en trek dit vir hom aan. Kry ’n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete.

23. En slag die vetgemaakte kalf. Ons moet feesvier,

24. want hierdie seun van my was dood en hy het nou teruggekeer na die lewe. Hy was verlore, maar nou is hy gevind.’ Toe het hulle begin feesvier.

25. “Intussen het die ouer seun in die veld gewerk. Toe hy terugkom huis toe, hoor hy musiek en dansery in die huis,

26. en hy vra toe een van die bediendes wat aangaan.

27. ‘Jou broer is terug!’ is vir hom gesê. ‘En jou pa het die vetgemaakte kalf geslag. Ons vier fees omdat hy veilig teruggekom het.’

28. “Die ouer broer het hom liederlik vererg en wou nie ingaan nie. Sy pa het toe uitgekom en hom gesoebat,

29. maar hy het geantwoord: ‘Ek het al die jare hard gewerk vir Pa en nooit geweier om enigiets te doen wat Pa my gesê het om te doen nie. En in al die tyd het Pa my nie eers ’n bokkie gegee om saam met my vriende fees te vier nie.

30. Maar toe hierdie seun van Pa terugkom nadat hy Pa se geld op prostitute gemors het, vier Pa fees en slag die beste kalf wat ons het.’

31. “Sy pa het vir hom gesê: ‘Kyk, Seun, ek en jy is nog altyd hier bymekaar en alles wat ek het, is tog joune.

32. Ons moet hierdie gelukkige dag vier. Want jou broer was dood en het teruggekom na die lewe! Hy was verlore, maar nou is hy gevind!’”

Lukas 15