Lukas 13:9-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. As ons volgende jaar vye kry, goed. So nie kan u hom uithaal.’”

10. Een Sabbatdag, terwyl Jesus in die sinagoge onderrig gegee het,

11. het Hy ’n vrou gesien wat deur ’n bose gees inmekaargetrek is. Sy was vir agtien jaar lank kromgetrek en kon nie regop staan nie.

12. Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê: “Vrou, jy is van jou kwaal genees!”

13. Toe het Hy haar aangeraak en sy kon dadelik regop staan. Hoe het sy God nie geloof en gedank nie!

14. Maar die hoof van die sinagoge was verontwaardig dat Jesus haar op die Sabbatdag genees het. “Daar is ses dae van die week om te werk,” het hy vir die skare gesê. “Kom op daardie dae om genees te word, nie op die Sabbat nie.”

15. Maar die Here antwoord hom: “Julle huigelaars! Julle werk op die Sabbatdag! Wie van julle maak nie op die Sabbat julle os of donkie los in die stal en lei hom uit om te drink nie?

16. Was dit nie vir My nodig, selfs op die Sabbatdag, om hierdie arme vrou te bevry van die gevangenskap waarin Satan haar vir agtien jaar gehou het nie?”

17. Dit het sy vyande laat skaam kry. En al die mense was verheug oor die wonderlike dinge wat Hy gedoen het.

18. Toe het Jesus gesê: “Hoe lyk die koningsheerskappy van God? Hoe kan Ek dit illustreer?

Lukas 13