40. Dwase! Het God nie die binne- sowel as die buitekant gemaak nie?
41. Gee dus vir die behoeftiges wat binne die koppie en die bord is, en julle sal oral skoon wees.
42. “Maar ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle is nougeset om ’n tiende van selfs die kleinste deel van julle inkomste te gee, maar julle vergeet heeltemal van regverdigheid en die liefde vir God. Julle moet regverdigheid en liefde beoefen, maar sonder om die tiendes na te laat.
43. “Ellende wag vir julle, Fariseërs! Want julle hou van die ereplekke in die sinagoges en om eerbiedig gegroet te word wanneer julle deur die markpleine loop!
44. Ja, ellende wag vir julle! Want julle is soos versteekte grafte in die veld. Mense loop daaroor sonder om te weet van die korrupsie waaroor hulle loop.”
45. “Leermeester,” sê ’n wetskenner, “U beledig óns ook met wat U nou gesê het.”
46. “Ja,” het Jesus geantwoord, “ellende wag ook vir julle, wetskenners! Want julle belas mense met onmoontlike godsdienstige eise, en julle lig nooit ’n vinger om die las te verlig nie.
47. “Ellende wag vir julle! Want julle bou grafte vir die profete wat julle voorouers lank gelede vermoor het.
48. So bevestig julle dat julle die dade van julle voorouers goedkeur. Húlle het immers die profete doodgemaak, maar júlle bou hulle grafte op.
49. “Dít is wat God in sy wysheid oor julle gesê het: ‘Ek sal profete en apostels na hulle toe stuur, en hulle sal sommige doodmaak en ander vervolg.’