12. Of as hulle ’n eier vra, gee julle dan vir hulle ’n skerpioen? Natuurlik nie!
13. As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”
14. Eendag het Jesus ’n bose gees uit ’n man uitgedryf wat nie kon praat nie, en die man se stem het teruggekeer. Die skare was verstom,
15. maar sommige het gesê: “Geen wonder Hy kan bose geeste uitdryf nie. Hy kry sy krag van Satan, die prins van bose geeste!”
16. Om Jesus te toets het ander vir ’n wonderteken uit die hemel gevra om te sien of Hy van God kom.
17. Hy het hulle gedagtes geken; daarom het Hy gesê: “Enige koninkryk wat teen homself stryd voer, is gedoem. En ’n verdeelde huis is ook gedoem.
18. Julle sê mos Ek kry my mag deur die prins van bose geeste. Maar as Satan teen homself veg deur My mag te gee om bose geeste uit te dryf, hoe kan sy koninkryk voortbestaan?
19. En as Ek deur die prins van bose geeste mag kry, wat van julle eie volgelinge? Hulle dryf ook bose geeste uit; dus sal hulle julle veroordeel vir wat julle gesê het.
20. Maar as Ek bose geeste uitdryf deur die krag van God, dan het die koningsheerskappy van God tot by julle gekom.
21. Want wanneer Satan, wat ten volle gewapen is, sy paleis bewaak, is dit veilig –
22. totdat iemand wat sterker is, hom aanval en oorweldig en sy wapens afneem en wat hy van ander gesteel het, uitdeel.
23. “Enigiemand wat My nie help nie, weerstaan My; en enigiemand wat nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, is besig om hulle uitmekaar te jaag.”
24. “Wanneer ’n onrein gees iemand verlaat, gaan hy die woestyn in op soek na rus. Maar as hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek sal teruggaan na die persoon toe waar ek vandaan kom.’
25. Hy gaan dus terug en kry sy vorige tuiste uitgevee en skoon.
26. Dan gaan haal hy sewe ander geeste erger as hyself, en trek in die persoon in en bly in hom. En so is daardie persoon slegter daaraan toe as voorheen.”
27. Terwyl Hy praat, het ’n vrou in die skare uitgeroep: “God seën u moeder – die skoot waaruit U gekom het, en die borste wat U gevoed het!”